Die geslote hekke van die establishment


Ek wonder party dae wat my besiel het om sewe jaar van my lewe te spandeer om ‘n kwalifikasie te bekom wat my noodwendig deel van die establishment sal maak. Of hoe ek gedink het ek daartoe toegang sal kry met ‘n CV wat so van counter culture en anti-establishment deurspek is, dat dit op geen manier verdoesel kan word sonder om blatant te lieg nie.

Die wêreld waarin ek my wil begeef, verdra nie mense soos ek nie. Hulle het ‘n neus vir ons soort en nie eers die mees formele powersuit kan die klankie van ‘n “subversiewe” verlede uitwis nie. Ons hoort nie, ons pas nie.

“Miskien moet jy maar by ‘n NGO gaan werk, SJ. Dis die wêreld wat jy ken. Dis waarvan jy mos hou, dan nie? Dink aan die verskil wat jy kan maak.”

“Jy sal nie in die korporatiewe wêreld aard nie.”

Ja.

 

 

 

 

 

Mogge troffe


Ek het aanvanklik nie beplan om my graad in persoon te ontvang nie.

’n Week voor die seremonie bel iemand van die universiteit my egter toe om my beoogde absentia te bevestig en net daar verander ek betraand van plan, want sien, tussen die bomskok en die post eksamen crash en nou het daar baie water in die see geloop.  Bitterwater, soetwater, soutwater.  Moerbaiewater met my nogsteeds aan die dobber sonder die geringste aanduiding van land in sig.

Ek het ook nie rerig iets beters gehad om laas Saterdagmiddag te doen nie en meer as enigiets anders het ek, ten spyte van die vreugde van suksesvolle uitslae, nog nie vir een oomblik eers bietjie gegradueerd gevoel nie.  My punte was nie na wense nie.  Meeste van my tyd daardie laaste semester is aan rekeningkunde spandeer, wat die jaar tevore meteens ‘n verpligte vak geword het en my lewensbelangrike oorblywende vyf spesialiteitsvakke het liederlik afgeskeep op die rak lê en stof vergader.  Ek was bitter daaroor.  Ek sal lieg as ek dit ontken.

Mense soos ek het destyds wiskunde aan die einde van standard sewe vir kuns gelos, dit was dekades voor selfs die idee van wiskunde geletterdheid as vak bestaan het en rekeningkunde  was iets wat op ’n planeet bestaan het waar mense soos ek nie eers durf besoek aflê het nie, maar skielik moes die uwe rekeningkunde op eerstejaarsvlak binne drie maande baasraak of my graad in die pylvak koebaai soen.

So, ja, ek was bly dat ek als deur is, maar die detail op daardie uitslagadvies Januariemaand was en is steeds ’n bitter pil om te sluk. Dit het gevoel of al daardie jare van laatnagte en bloedsweet vir absoluut niks was nie.

Miskien sou Die Kanselier my met graduandus [1] kon salf.  Toe gaan ek maar.

Soos die dinge seker maar uitdraai, was Die Kanselier, een van die land se mees prominente senior regters, teen die tyd dat ons van die Rooi Lint Brigade aan die beurt gekom het tot die dood toe verveeld en so slap op sy houttroon in die middel van die verhoog aan die slaap, dat hy nie eers meer gepoog het om sy ken van sy skouer af op te tel of sy oë te probeer oophou nie en maar so in die algemene rigting waar hy gereken het die gemiddelde kep sou wees, gemik het en gehoop het hy tref die kol.  Ek het dit darem so skuins teen die rand van die kep gekry, maar gesalf?  Aikhôna!

Die salwing het met die warm handdruk van prof Makhanya en die omsit van die Rooi Lint deur prof Molamu aan die verste kant van die verhoog gebeur.  Seën die Vise-Kanselier! Seën Die Registrateur!

Seën die vrou by die tafel onder langs die verhoogtrap met die stralende glimlag wat die papier met die rooi seël vir my gegee het. Seën die verteenwoordiger van die Alumni wat ons buite die saal ingewag het en vir my ’n twinsaver gegee het en gesê het dit is goed om te sien daar is nog mense wat die waarde van daardie papier in hulle hand besef.

Ek het klaar my eerste bloutjie geloop.  Dear Ms SusaraJohanna, we regret to inform you…

Dis vir my nogsteeds heeltemal duister watter loopbaanopsies daar tot die beskikking van ’n haas middeljarige, pas gegradueerde regsgeleerde is, maar ek het daardie kosbare dokument, knus opgerol in sy wynrooi buis, klaar ingescan op pdf en in my CV ge-insert.

Nou kan ek allerhande klippe in die bos gooi en sien wat uitspring.


[1] Daar bestaan nie rerig so ’n woord nie 😉 dit beteken ’n gevoel van gegradueerdheid.

Animus absentia


Ek het my graad gekry.

Uiteindelik.

Dit het amper dubbeld so lank gevat as normaalweg, want ek val nie juis in die ouderdomsgroep van die gemiddelde regstudent nie.  Nie naastenby nie, lol!  Mens se lewensdinge en kopspasie raak mos maar mettertyd meer en voller en jou tyd en jou lewe is nie heeltemal meer soveel jou eie as wat dit op 19 tot 22 was nie.  (Hehe, ek kan die Geliefde Ene alklaar hoor sê: verskonings, verskonings, SusaraJohanna.  En hy sal reg wees.  Of deels dan 😉)

Nou het ek die lank begeerde papiere en meteens het ek geen idee wat om daarmee aan te vang nie.  Dis asof daar ‘n buite-karakter soort verlamming by my ingetree het.  Ek het gedink ek weet wat ek wil doen, of minstens dat dit voor-die-hand-liggend is wat mens met ‘n LLB-graad doen.  En dit is nie.  Glad nie

Dis al meer as drie maande later. Die druk begin opbou om IETS te doen.  Doen intussen wat die hand vind om te doen, beraad my welmenende ondersteunende nou die dag.  Ek het nie die moed gehad om vir hom te sê ek het op hierdie oomblik nie die vaagste benul waar my hande heen is nie of waar om hulle op te spoor nie.

Wat ek hierso wil doen, is om sommer net hard-op te dink.  Animus pro animis.